
Leandie du Randt kraai koning(in) op Afrikaanse skerms. Van die kassie tot die silwerskerm, tydskrif rakke tot sosiale media bladsye – haar naam is oral.
Du Randt se boek, Gemaklik in jou eie lyf: Wees die beste jy, is dalk gerig op tienermeisies, maar dit bied wysheid en raad wat op enige vrou van toepassing kan wees.
Hanlie Retief het onlangs met Du Randt gesels om uit te vind wie die meisie met die verlengde blonde hare en dinamiese persoonlikheid nou eintlik is. “Kyk, moenie Little Miss Sunshine op haar blonde spiraalkrulle takseer nie. Leandie is swaargewig, al weeg sy soveel soos drie Mariebeskuitjies,” skryf Retief.
Du Randt se jongste fliek – Hollywood in my huis – begin more landwyd in teaters draai. Sy speel die rol van Angeligue, die hoofpoppie van die skool en ook aan die stuur van die matriekafskeid-komitee. Sy kom uit een van die welaf-gesinne in die buurt. Sy weet alles én beter as enigeen en weet presies hoe om mense om haar pinkie te draai. As sy nie haar sin kry nie, word sy baie slinks.
Kyk na die voorskou van die fliek:
Lees Retief se artikel om Du Randt beter te leer ken:
Hey girl! gooi Leandie haar fave Ivanka-lyn as sy kaalvoet naderstap, hierdie pop van ’n meisie met ’n strik in haar hare, plip-plip-plip op Stark Films se gepoleerde marmerwit sementvloer.
Howzit! Sy pluk so ’n lekker Brakpan-twang uit dié lyn van haar Binnelanders-karakter, Ivanka.
“Ek luv’it om vir Van te twang. I-Vên-ka sal sê: Gaan haal die kar uit die ghê-raash. En moenie my ien-sult nie!”
Leandie dra vandag ’n vintage-rokkie. ’n Vaal 1980’s-weeskind-rokkie, tot by haar kuiltjie toegeknoop, waarskynlik by die Neighbourgoods-mark in Braamfontein losgeslaan waar sy en haar verloofde, Bouwer Bosch, Saterdae met pêlle rondhang voor hulle huis toe slenter om horisontaal moewies te kyk terwyl sy haar mond volprop met Diddle Daddle-karamelspringmielies “en dan soos ’n kind uitpass van die sugar rush”.
Boekbesonderhede